Jesaja - Isaiah

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50 51 52 53 54 55 56 57 58 59 60 61 62 63 64 65 66


Hoofstuk 35

Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n narsing;
2 dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.
3 Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas.
4 Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.
5 Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word.
6 Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.
7 En die gloeiende grond sal ‘n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.
8 En dáár sal ‘n grootpad wees en ‘n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel—selfs die dwase sal nie dwaal nie.
9 Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel;
10 en die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.