Psalms
Hoofstuk 119
Alef.Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel.  
2 Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;  
3 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.  
4 U het u bevele gegee om dit trou te onderhou.  
5 Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!  
6 Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.  
7 Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.  
8 Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie.  
9 Bet. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.  
10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.  
11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.  
12 Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge!  
13 Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.  
14 Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.  
15 Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.  
16 Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.  
17 Gimel. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.  
18 Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.  
19 Ek is ‘n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.  
20 My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.  
21 U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.  
22 Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar.  
23 Al sit vorste en beraadslaag teen my—u kneg oordink u insettinge.  
24 Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.  
25 Dalet. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord.  
26 My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!  
27 Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.  
28 My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord.  
29 Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.  
30 Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.  
31 Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie!  
32 Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.  
33 He. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.  
34 Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.  
35 Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae.  
36 Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.  
37 Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.  
38 Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.  
39 Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.  
40 Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.  
41 Wau. En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte,  
42 sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.  
43 En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.  
44 Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,  
45 en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.  
46 Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.  
47 En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,  
48 en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.  
49 Sajin. Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het.  
50 Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.  
51 Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.  
52 Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos.  
53 Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.  
54 U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap.  
55 HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou.  
56 Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het.  
57 Get. Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar.  
58 Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte.  
59 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.  
60 Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.  
61 Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.  
62 Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.  
63 Ek is ‘n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.  
64 HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.  
65 Tet. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord.  
66 Leer my ‘n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.  
67 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.  
68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge.  
69 Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.  
70 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.  
71 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.  
72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.  
73 Jod. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.  
74 Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.  
75 Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.  
76 Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.  
77 Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.  
78 Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.  
79 Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken.  
80 Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie.  
81 Kaf. My siel smag na u heil; op u woord wag ek.  
82 My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos?  
83 Want ek het geword soos ‘n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie.  
84 Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers?  
85 Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie.  
86 Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my!  
87 Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie.  
88 Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou.  
89 Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.  
90 U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.  
91 Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte.  
92 As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.  
93 Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.  
94 Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele.  
95 Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse.  
96 Aan alle volmaaktheid het ek ‘n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.  
97 Mem. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.  
98 U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.  
99 Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.  
100 Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.  
101 Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar.  
102 Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want U het my geleer.  
103 Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.  
104 Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.  
105 Noen. U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.  
106 Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.  
107 Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord!  
108 Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge.  
109 My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.  
110 Die goddelose het vir my ‘n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.  
111 Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.  
112 Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.  
113 Samek. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.  
114 U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.  
115 Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!  
116 Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.  
117 Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.  
118 U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.  
119 U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.  
120 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.  
121 Ajin. Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.  
122 Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.  
123 My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid.  
124 Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge.  
125 Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken.  
126 Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek.  
127 Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.  
128 Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.  
129 Pe. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle.  
130 Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.  
131 Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek.  
132 Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet.  
133 Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.  
134 Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou.  
135 Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.  
136 My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.  
137 Sade. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge.  
138 In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou.  
139 My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.  
140 U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.  
141 Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.  
142 U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.  
143 Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.  
144 U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.  
145 Kof. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar.  
146 Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou.  
147 Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek.  
148 My oë is die nagwake voor om u woord te oordink.  
149 Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge.  
150 Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is.  
151 U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid.  
152 Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.  
153 Resj. Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie.  
154 Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte.  
155 Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie.  
156 HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge.  
157 My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie.  
158 Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie.  
159 Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid.  
160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.  
161 Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.  
162 Ek is vrolik oor u belofte soos een wat ‘n groot buit vind.  
163 Leuens haat ek en het daar ‘n afsku van; u wet het ek lief.  
164 Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.  
165 Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.  
166 o HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie.  
167 My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief.  
168 Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.  
169 Tau. o HERE, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord.  
170 Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte.  
171 My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge.  
172 My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid.  
173 Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.  
174 o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.  
175 Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help.  
176 Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.