Psalms
Hoofstuk 60
Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die Lelie van die Getuienis." ‘n Gedig van Dawid, om te onderrig. (60:2)Toe hy oorlog gevoer het teen die Arameërs van Mesopotámië en die Arameërs van Soba, en Joab teruggekom en die Edomiete verslaan het in die Soutdal, twaalf duisend. (60:3) o God, U het ons verstoot, ons vanmekaar geskeur; U was toornig; herstel ons!  
2 (60:4) U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel!  
3 (60:5) U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink.  
4 (60:6) U het aan die wat u vrees, ‘n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela.  
5 (60:7) Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons!  
6 (60:8) God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.  
7 (60:9) Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.  
8 (60:10) Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa!  
9 (60:11) Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom?  
10 (60:12) Het U, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.  
11 (60:13) Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid.  
12 (60:14) In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.