Psalms
Hoofstuk 88
‘n Lied, ‘n Psalm van die kinders van Korag, Vir die musiekleier; op die wysie van: "Máhalat leannot." ‘n Onderwysing van Heman, die Esrahiet. (88:2)HERE, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U.  
2 (88:3) Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.  
3 (88:4) Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk.  
4 (88:5) Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos ‘n man sonder krag,  
5 (88:6) vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand.  
6 (88:7) U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.  
7 (88:8) U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela.  
8 (88:9) U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie.  
9 (88:10) My oog vergaan van ellende. HERE, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit.  
10 (88:11) Kan U aan die dooies ‘n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela.  
11 (88:12) Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?  
12 (88:13) Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid?  
13 (88:14) Maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet.  
14 (88:15) HERE, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my?  
15 (88:16) Van jongs af is ek ellendig en klaar om te sterwe; ek dra u verskrikkinge, ek is radeloos.  
16 (88:17) U toorngloed het oor my gegaan; u verskrikkinge vernietig my;  
17 (88:18) die hele dag omring hulle my soos water, saam omsingel hulle my.  
18 (88:19) U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis.