Psalms
Hoofstuk 24
‘n Psalm van Dawid.Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;  
2 want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.  
3 Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?  
4 Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.  
5 Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.  
6 Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek—dit is Jakob. Sela.  
7 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!  
8 Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.  
9 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!  
10 Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare—Hy is die Erekoning! Sela.