Psalms
Hoofstuk 79
‘n Psalm van Asaf. O God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak.  
2 Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land.  
3 Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe.  
4 Ons het vir ons bure ‘n smaad geword, ‘n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.  
5 Hoe lank, HERE, sal U vir ewig toornig wees, sal u ywer brand soos ‘n vuur?  
6 Stort u grimmigheid uit oor die heidene wat U nie ken nie, en oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie.  
7 Want hulle het Jakob verteer en sy woning verwoes.  
8 Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie; laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak.  
9 Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.  
10 Waarom sou die heidene sê: Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte.  
11 Laat die gesug van die gevangene voor u aangesig kom; laat die kinders van die dood oorbly na die grootheid van u arm.  
12 En vergeld ons bure sewevoudig in hulle skoot die smaad waarmee hulle U, o Here, gesmaad het.  
13 En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag sal ons u lof vertel.