Psalms
Hoofstuk 96
Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde!  
2 Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.  
3 Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.  
4 Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode.  
5 Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak.  
6 Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom.  
7 Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte.  
8 Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe.  
9 Aanbid die HERE in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde!  
10 Sê onder die volke: Die HERE is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel.  
11 Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis.  
12 Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel  
13 voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.