Psalms
Hoofstuk 85
Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. (85:2)U het, o HERE, ‘n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander.  
2 (85:3) U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.  
3 (85:4) U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.  
4 (85:5) Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons!  
5 (85:6) Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag?  
6 (85:7) Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?  
7 (85:8) Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil!  
8 (85:9) Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!  
9 (85:10) Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.  
10 (85:11) Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.  
11 (85:12) Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer.  
12 (85:13) Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.  
13 (85:14) Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe.