Psalms
Hoofstuk 22
Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die hert van die dageraad." ‘n Psalm van Dawid. (22:2)My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?  
2 (22:3) My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.  
3 (22:4) Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!  
4 (22:5) Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.  
5 (22:6) Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.  
6 (22:7) Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk.  
7 (22:8) Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:  
8 (22:9) Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!  
9 (22:10) Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.  
10 (22:11) Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.  
11 (22:12) Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie.  
12 (22:13) Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring.  
13 (22:14) Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul.  
14 (22:15) Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.  
15 (22:16) My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.  
16 (22:17) Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.  
17 (22:18) Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!  
18 (22:19) Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.  
19 (22:20) Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help!  
20 (22:21) Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond.  
21 (22:22) Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor!  
22 (22:23) Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.  
23 (22:24) Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel!  
24 (22:25) Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.  
25 (22:26) Van U kom my lof in ‘n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.  
26 (22:27) Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!  
27 (22:28) Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.  
28 (22:29) Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.  
29 (22:30) Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.  
30 (22:31) ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.  
31 (22:32) Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.