Psalms
Hoofstuk 143
‘n Psalm van Dawid.O HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid.  
2 En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.  
3 Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is.  
4 En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste.  
5 Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.  
6 Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos ‘n uitgedorde land. Sela.  
7 Verhoor my tog gou, HERE: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie.  
8 Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.  
9 Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek.  
10 Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land.  
11 o HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid.  
12 En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg.