Psalms
Hoofstuk 146
Halleluja! Loof die HERE, o my siel!  
2 Ek wil die HERE prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is.  
3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.  
4 Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.  
5 Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God,  
6 wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;  
7 wat aan die verdruktes reg doen, wat aan die hongeriges brood gee. Die HERE maak die gevangenes los.  
8 Die HERE open die oë van die blindes; die HERE rig die wat geboë is, op; die HERE het die regverdiges lief.  
9 Die HERE behoed die vreemdelinge; Hy rig wees en weduwee weer op; maar die weg van die goddelose maak Hy krom.  
10 Die HERE is vir ewig Koning; jou God, o Sion, is van geslag tot geslag! Halleluja!