Psalms
Hoofstuk 148
Halleluja! Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!  
2 Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!  
3 Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!  
4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!  
5 Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee—en hulle is geskape.  
6 En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ‘n wet gegee wat geeneen oortree nie.  
7 Loof die HERE van die aarde af—groot seediere en alle dieptes!  
8 Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring;  
9 berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome,  
10 wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls;  
11 konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde;  
12 jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—  
13 laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!  
14 En Hy het ‘n horing vir sy volk verhef: ‘n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is. Halleluja!