Psalms
Hoofstuk 64
Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (64:2) Hoor my stem, o God, in my klagte; bewaar my lewe vir die skrik van die vyand.  
2 (64:3) Steek my weg vir die raad van die kwaaddoeners, vir die gewoel van die werkers van ongeregtigheid;  
3 (64:4) wat hulle tong skerp maak soos ‘n swaard, hulle pyl rig—bitter woorde! —  
4 (64:5) om in skuilplekke na die opregte te skiet; skielik skiet hulle hom en vrees nie.  
5 (64:6) ‘n Listige plan stel hulle vir hul vas; hulle spreek af om strikke te span; hulle sê: Wie sal dit sien?  
6 (64:7) Hulle versin ongeregtighede: Ons is gereed! ‘n Fyn uitgedinkte plan! Ja, ‘n man se binneste en onpeilbare hart!  
7 (64:8) Maar God tref hulle met ‘n pyl, skielik is hulle wonde daar.  
8 (64:9) En hulle tong laat hulle oor hulself struikel; almal wat hulle aansien, skud die hoof.  
9 (64:10) En alle mense vrees en verkondig die werk van God en gee ag op wat Hy doen.  
10 (64:11) Die regverdige sal bly wees in die HERE en by Hom skuil, en al die opregtes van hart sal hulle beroem.