Psalms
Hoofstuk 12
Vir die musiekleier; met basstem. ‘n Psalm van Dawid. (12:2) Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders.  
2 (12:3) Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.  
3 (12:4) Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat,  
4 (12:5) hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons?  
5 (12:6) Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag.  
6 (12:7) Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.  
7 (12:8) U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.  
8 (12:9) Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders.