Psalms
Hoofstuk 92
‘n Psalm. ‘n Lied vir die sabbatdag. (92:2)Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,  
2 (92:3) om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;  
3 (92:4) by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.  
4 (92:5) Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.  
5 (92:6) Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!  
6 (92:7) ‘n Dom mens weet nie, en ‘n dwaas verstaan dit nie:  
7 (92:8) as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.  
8 (92:9) Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, HERE!  
9 (92:10) Want kyk, u vyande, o HERE, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word.  
10 (92:11) Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.  
11 (92:12) En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan.  
12 (92:13) Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Líbanon.  
13 (92:14) Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God.  
14 (92:15) In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees,  
15 (92:16) om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.